Gebraaide rooivis
'n Rooivis is een wat rooierig in kleur is, redelike groot skubbe het en wat se vleis wit is. Hulle is familie van die Sparidae en voorbeelde is Rooi Roman, Dageraad en Poenskop in Suid Afrika en Snapper in Amerika. http://en.wikipedia.org/wiki/Sparidae
Hierdie resep is van toepassing op vars vis (oftwel een waar net die binngoed uitgehaal is en die res van die vis nog heel is. M.a.w. sy kop, vinne en stert is nog op en hy is nie gekrap nie.)
Sonder om die skubbe af te krap, neem die heel vis en met 'n skerp fillet mes, sny deur die vis se buik en kop. Sny die hele vis in die middel deur tot teen die ruggraat. Moenie deur die ruggraat sny nie, jy gaan die vis oopvlek soos 'n boek. Jy moet deur die kop ook sny of jy kan die kop verwyder as jy te veel sukkel. Maar jy gaan spyt wees. Die kop het van die lekkerste vleis aan.
Wanneer die hele vis oopgevelk is, smeer bietjie botter in die binnekant. Sprinkel bietjie sout (of Aromat) en growwe swart peper oor. Plaas die oopgevlekte vis in 'n toeknyprooster en plaas skubbekant bo op die kole. Hou die kleur van die vleis dop. Wanneer dit begin wit raak (nie deurskynend nie), druk 'n suurlemoenkwart of twee uit op die vleisdeel en draai hom vir 'n minuut om met die vleiskant na die kole.
Haal die vis uit die rooster en plaas met die skubbekant na onder op 'n bord. Ky kan of met 'n vurk of met jou vingers die heerlike stukke vleis uiteet. Die skuppe maak 'n bord en die vis kom maklik daarvan af.
Geniet!
